HOE OM RUGPYN TE BEHANDEL
January 7, 2016  

Wenke om rugpyn te keer

Deur Rochélle Human 07 Januarie 2016 11:49

Rugpyn is ’n epidemie onder kantoorwerkers wat lang ure gebukkend en gespanne agter ’n lessenaar deurbring.

NAAS HOOFPYN WORD RUGPYN AS DIE ALGEMEENSTE OORSAAK VAN PYN BESKOU.

Laerugpyn is volgens die Chiropraktiese Vereniging van Suid-Afrika (CVSA) ’n epidemie in geïndustrialiseerde lande.

Naas hoofpyn word rugpyn as die algemeenste oorsaak van pyn beskou.

Navorsing wys tot 90% van alle mense sal vermoedelik in ’n stadium van hul lewe rugpyn hê.

Naas verkoues is rugpyn die algemeenste rede vir doktersbesoeke, sê David Fabricius, ’n biokinetikus van Kaapstad.

 

My rug pyn, maar van wat?

Rugpyn word deur fisieke en sielkundige stres of swak spiere veroorsaak, sê die CVSA.

Oorerflikheid, beroepsrisiko’s, sportbeserings of motorongelukke kan gewoonlik die skuld kry.

Die kantoor is ’n kweekhuis vir rugpyn, waar swak ergonomika, ’n krom postuur en spanning vir lang ure aaneen die rugspiere ooreis en spierspasmas in die rug, nek en skouers kan veroorsaak.

Volgens Fabricius sal tot 50% van die werkende bevolking minstens een maal per jaar rug- of nekpynsimptome ervaar.

Swak postuur sit uitermate druk op die lae rug, sê hy.

Dis egter nie net sittende mense wat rugpyn kry nie, maar ook jong, aktiewe sportmanne.

Spierwanbalans is ’n groot oorsaak van laerugpyn - sommige spiere is te styf en ander weer te swak,” sê dr. Benita Olivier, lektor in fisioterapie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

“Hierdie wanbalans beïnvloed die manier waarop die heupe, pelvis en lae rug beweeg.”

Sommige gewrigte en spiere word oorlaai, wat tot rugpyn lei.

Swanger vroue kan laerugpyn ontwikkel weens die ekstra gewig en die verplaasde swaartepunt.

In ernstiger gevalle kan laerugpyn veroorsaak word deur pyn in die ingewande.

’n Baie klein aantal pasiënte kry laerugpyn weens kanker en sistemiese siektes.

Behandeling kan strek van ruggraatmanipulasie en terapie deur ’n chiropraktisyn, beheer van die simptome deur medikasie wat ’n huisdokter voorskryf, fisioterapie of selfs chirurgie.

Volgens die meeste kenners behoort chirurgie egter net as ’n laaste uitweg oorweeg te word.

Akute laerugpyn

Akute rugpyn duur minder as drie weke en chroniese pyn langer as drie maande.

Die meeste pasiënte se rugpyn begin sonder enige besering en vererger met verloop van ’n paar weke, sê Olivier.

’n Algemene scenario van ’n akute rugpyn-aanval is erge laerugpyn skielik nadat die pasiënt gebuk het om byvoorbeeld ’n leë wasgoedmandjie van die grond af op te tel.

Op die oog af lyk dit nie soos ’n beweging wat veronderstel is om pyn te veroorsaak nie, maar dan vertel die pasiënt hy het die hele naweek swaar bokse gedra, want hy het verhuis.

“Die diskus het dan reeds oor die naweek baie deurgemaak en die afbuk om die wasgoedmandjie op te tel was net die laaste strooi,” sê sy.

Wat is dit nié?

Jou rugpyn dui waarskynlik nie op kanker nie en jy sal heel moontlik ook nie verlam word nie.

“ ’n Pasiënt het my ’n paar weke gelede gebel en gekla van laerugpyn nadat hy ’n paar dae lang ure by die kantoor deurgebring het,” vertel Olivier.

“Sy eerste vraag was: ‘Gaan dit beter word?’ en sy tweede vraag: ‘Ek gaan nie verlam word nie, nè?’

“Sy rugpyn het ’n week later opgeklaar en hy is nou pynloos. Navorsing het al bewys dit wat ’n mens glo, speel ’n rol in jou ervaring van pyn.”

Die beste ding wat ’n mens kan doen om rugpyn te voorkom is om fiks te bly. Indien pyn wel intree en nie ophou nie, gaan spreek iemand wat dit kan behandel (lees die kassie hieronder).

En let op jou meubels: Sagte beddens, banke en motorsitplekke tesame met verswakte maag- en rugspiere weens onbruik kan baie maklik tot rugpyn lei.

Kinetikus kan help met rugpyn

’n Biokinetikus gebruik spesifieke oefeninge om pasiënte met laerugpyn te behandel en verkeerde postuur, spierwanbalanse en -swakhede reg te stel.

Maak ’n afspraak by ’n biokinetikus as laerugpyn daaglikse take en sportdeelname belemmer, en pyn en ongemak veroorsaak wanneer jy sit, staan, stap, of swaar voorwerpe optel of dra. Die ruggraatspiere kan ooreis of verrek wees, of die lenderuggraat-ligamente verstuit wees.

’n Biokinetikus kyk ook na ruggraat-onstabiliteit en onstabiliteit in die kernspiere, wat direk verantwoordelik is vir lae rugpyn.

Hoe word dit behandel?

Elke pasiënt word individueel geëvalueer en gediagnoseer, waarna ’n gepaste oefenprogram voorgeskryf word.

“Oefeningterapie is ’n noodsaaklike komponent van die pasiënt met laerugpyn se behandeling en rehabilitasie,” sê David Fabricius.

Dis belangrik om die kernspiere te versterk en só te stabiliseer. Die kern sluit die ruggraat, heupe en pelvis, bobene en maagspiere in.

“Kernspieroefeninge leer jou liggaam weer hoe om veilig en sonder pyn te beweeg.”

Die biokinetikus kan ook metodes soos Pilates of joga inkorporeer.

Maak dán ’n afspraak

Raadpleeg ’n biokinetikus as spierpyn en -styfheid jou alledaagse take bemoeilik; of vir ’n fisieke evaluering van jou postuur, oefentegnieke vir sportiewes en beserings.

 

Besoek dán ’n chiropraktisyn

Besoek ’n chiropraktisyn vir akute en chroniese pyn, laerugpyn, nekpyn of as gewone bewegings soos sit, staan of lê ongemaklik is.

Dié probleme kan die gevolg wees van verswakte spiere, swak postuur, of as jy op ’n snaakse manier opgestaan of gebuk het.

“As jy rugpyn het, moenie paniekerig raak nie. Sien ’n chiropraktisyn as die pyn aanhou,” sê dr. Reg Engelbrecht, uitvoerende hoof van die CVSA.

Die chiropraktisyn sal jou deeglik ondersoek en moontlik x-strale neem om te bepaal watter rigting die behandeling moet inslaan.

Hoe word dit behandel?

Indien chirurgie nie nodig is nie, word konserwatiewe behandeling toegepas.

Dit behels mobilisering van die gewrigte, verskeie terapeutiese tegnieke soos hitte en massering fisioterapie en oefening.

Maak dán ’n afspraak

“So gou moontlik,” sê Engelbrecht. “Herstel is vinniger as daar in ’n vroeë stadium aandag aan die probleem geskenk word.”

 

Besoek dán ’n fisioterapeut

Die meeste pasiënte wat deur fisioterapeute behandel word, kla van laerugpyn, sê dr. Benita Olivier.

Laerugpyn is pyn tussen die twaalfde torakale rugwerwel (waar die onderste rib by die werwelkolom aansluit) en die gluteale voue (die onderpunt van die boude).

Hoe word dit behandel?

“Oefening is baie waardevol, maar kan ook gevaarlik wees en moet dus reg ingespan word in die behandeling van rugpyn,” sê sy.

Verder gebruik fisioterapeute verskillende tegnieke om die spiere te ontspan en die gewrigte los te maak.

Die fisioterapeut verskaf dikwels ’n tuisprogram en gee ook raad rondom ergonomika en leefstylveranderings.

Maak dán ’n afspraak

Dikwels gaan rugpyn binne ’n dag of drie sonder enige ingryping weg, sê Olivier.

As laerugpyn onhoudbaar is, nie binne ’n paar dae opklaar nie en jou vermoë om jou alledaagse aktiwiteite uit te voer belemmer, is dit tyd om ’n fisioterapeut te raadpleeg.

“Indien jy gereeld rugpyn kry, selfs al is dit nie so erg nie, kan ’n fisioterapeut keer dat dit erger word.”

Vereniging se wenke vir ’n gesonde rug

Moets

  • Bly fiks.
  • Handhaaf ’n gesonde gewig. Ekstra gewig sit spanning op jou rug.
  • Gebruik jou bene, nie jou rug nie, wanneer jy swaar voorwerpe optel. Hou die voorwerp na aan jou liggaam, buig jou knieë en heupe en hou jou rug so reguit moontlik.
  • Jou bed se matras moet sag maar ferm wees. Slaap op jou sy, knieë gebuig, met ’n klein kussing tussen jou knieë, of op jou rug met kussings onder jou knieë en nek.
  • Tien minute oefening per dag, verkieslik swem, kan jou spiere versterk, strek en ontspan.

Moenies

  • Moenie vir lank aaneen vooroor buig nie.
  • Moenie vir lank in een posisie staan of sit sonder om rond te beweeg, te strek of jou liggaamshouding reg te stel nie.
  • Moenie ongebalanseerde voorwerpe dra wat jou liggaam een kant toe laat leun nie.
  • Moenie iets optel en draai as jou rug krom is nie. Dit is waarskynlik die ergste meganiese spanning wat jy op jou rug kan plaas.
  • Moenie vooroor buig en swaar voorwerpe optel terwyl jou bene reguit is nie.
  • Moenie swaar voorwerpe hoër as jou skouers lig nie.
  • Moenie te ver van die pedale en stuurwiel sit wanneer jy bestuur nie.

Supplied by Club Admin from nedbankrunningclub